BORSSUIKER KLONTJIES (Barley
Sugar)
500 ml suiker
Knippie sout
150 ml water
2.5 ml kremetart
12.5 ml suurlemoensap
Geel of oranje kleursel
Roer die suiker, sout en die water in ‘n kastrol totdat die suiker
opgelos is. Laat dit dan liggies kook. Skraap al die suikerkristalle van die
kante van die kastrol af of kook dit vir 3 minute lank met die deksel op om die
kristalle op te los. Voeg die kremetart by en kook dan sonder die deksel tot
dit die harde kraakstadium bereik as dit in koue water getoets word. Die
mengsel sal van kleur verander as dit daardie temperatuur bereik. Voeg die
suurlemoensap, geursel en kleursel by en verwyder van die hitte. Drup dit van
die kastrol op ‘n gesmeerde marmerblad of plat enemmelskinkbord sodat klein
ronde klontjies vorm. Laat dit koud en hard word en pak dit in ‘n digte fles
weg.
BOTTERKARAMEL (Butterscoth)
350 ml bruinsuiker
10 ml asyn
200g botter
200 ml water
2.5 ml vanielje geursel
Meng suiker, asyn, botter en water in ‘n kastrol. Roer dit oor stadige
hitte tot die suiker opgelos is. Kook sonder om verder te roer tot dit die
harde kraakstadium bereik het, as dit in koue water getoets word. Voeg die
vanielje geursel by en gooi dit in ‘n vlak pan uit wat met botter gesmeer is.
Laat dit effens afkoel en merk vierkantige blokkies daarop uit voordat dit hard
en koud is. Breek in stukkies wanneer dit koud is.
FUDGE
500 ml suiker
45 ml water
55 ml botter
30 ml gouestroop
1 Blikkie kondensmelk
5 ml vanielje geursel
Meng die suiker en water in 'n swaarboomkastrol en roer dit oor lae
hitte totdat die suiker opgelos is. Maak seker dat daar geen suikerkristalle
teen die kant van die kastrol vassit nie. Indien dit wel gebeur, borsel dit af
met 'n kwassie wat in warm water gedoop is. Voeg die botter en gouestroop by
die suikerwater en roer dit totdat die botter gesmelt is. Voeg die kondensmelk
by die mengsel en roer dit aanhoudend totdat dit kookpunt bereik. Kook die
mengsel ongeveer 25 minute lank tot by die sagtebalstadium. Roer dit af en toe
om aanbrand te voorkom. Laat die mengsel afkoel totdat dit louwarm is en voeg
die vanielje geursel by. Klop die mengsel totdat dit dik en romerig is. Giet
die suikermengsel in 'n gesmeerde pannetjie. Hou die kastrol skuins sodat die
mengsel vrylik kan
uitloop.
Moet nie skud of die mengsel uitskraap nie, want dan kan dit versuiker. Laat die suiker mengsel
in die pannetjie afkoel voordat dit in blokkies gesny word. Dit moet heeltemal
koud wees voor dit gesny word, anders kan
dit verbrokkel.
KLAPPERYS (Coconut Ice)
750 ml suiker
1 Blikkie kondensmelk
200 ml water
750 ml klapper
‘n Paar druppels pienk geursel
5 ml vanielje geursel
Knypie kremetart
Plaas suiker en water in ‘n swaarboomkastrol en roer oor lae hitte tot
die suiker opgelos is. Voeg kondensmelk by en roer tot dit kook. Voeg kremetart
by en laat kook sonder om te roer totdat mengsel sagtebalstadium bereik.
Verwyder van stoof. Voeg klapper en vanielje by en klop mengsel tot dik en romerig.
Gooi die helfte van die mengsel in 180 mm vierkantige pan. Kleur die res van
die mengsel met pienk kleursel en gooi oor die wit laag. Laat afkoel en sny in
vierkante wanneer gestol.
MALVALEKKERS
30 ml gelatien
125 ml koue water
500 ml strooisuiker
125 ml kookwater
Pienk voedsel kleursel
10 ml vanielje geursel
Versiersuiker om lekkers in te rol
Spuit ‘n 2.5 liter bak met kleefwerende kossproei. Week die gelatien
in die koue water tot sponsagtig. Verhit stadig totdat dit heeltemal opgelos
is. Voeg die res van die bestanddele by, behalwe die vanielje geursel en
versiersuiker. Klits 7 - 10 minute lank met ‘n elektriese klitser totdat die
mengsel begin verdik. Kleur met ongeveer 12 druppels voedsel kleursel en voeg
ook die vanielje geursel by. Meng goed en giet uit in die voorbereide bak sodat
die mengsel sowat 1.5 cm diep daarin lê. Plaas in yskas tot gestol en sny dan
in blokkies. Rol in versiersuiker [indien verkies]. Lewer 65 blokkies.
MEBOS
1.5 kg droë appelkooshelftes
Kookwater
15 ml sout
1.5 kg suiker
Ekstra suiker
Plaas die appelkooshelftes in 'n groot skottel. Bedek dit met
kookwater en laat dit 10 minute lank week. Moet dit nie langer laat lê nie,
anders word dit te pap om mee te werk. Dreineer die appelkose en spoel dit
onder lopende koue water af. Druk dit so droog moontlik met 'n papierhanddoek.
Maak die appelkooshelftes fyn in 'n voedselverwerker, of maal dit 2 maal deur
'n vleismeul. Voeg die sout by die appelkoospulp en meng dit goed. Voeg die
suiker by die appelkoosmengsel en meng deeglik. Bedek die bak met 'n lap en
laat staan vir 'n uur. Vorm die mengsel in balletjies, rol dit in die ekstra
suiker en druk dit plat. Pak die mebos in lae in 'n blik met botter of
waspapier en 'n lagie suiker tussenin.
NOGA
375 ml suiker
250 ml gouestroop
125 ml water
Knippie sout
1 eierwit, styf geklits
60 ml glanskersies, gekap
250 ml neute, grof gekap
2 ml vanielje geursel
Vermeng die suiker, stroop, water en sout. Verhit dit en roer dit
voortdurend totdat die suiker opgelos is. Kook dit verder, sonder om te roer,
tot die sagtebal stadium. Haal dit van die plaat af en gooi dit in ‘n dun
straaltjie oor die styfgeklitste eierwit. Klits dit voortdurend met ‘n
elektriese klitser. Wanneer die mengsel fatsoen behou, roer die kersies, neute
en geursel by. Gooi dit in ‘n gesmeerde oondpan. Laat staan oornag en sny dit
dan in blokkies.
SHERBET
250 ml versiersuiker
5 ml koeksoda
2.5 ml wynsteensuur
Sif al die bestanddele goed saam en verpak.
SUURLEMOEN JELLIE LEKKERS
30 ml gelatien
160 ml water
125 ml suurlemoensap
160 ml lemmetjiesap
160 ml strooisuiker
160 ml glukosestroop (kry by apteek)
Groen voedselkleursel (opsioneel)
125 ml versiersuiker
60 ml mielieblom
Strooi gelatien oor koue water in koppie. Sodra die gelatien gestol
het, verhit oor pruttende water tot opgelos. Verhit vrugtesappe, suiker en
glukosestroop oor lae hitte - sonder om te kook - totdat suiker opgelos het.
Roer gelatienmengsel en voedselkleursel by sodra opgelos. Giet mengsel in
uitgespoelde pan van 15 x 15cm. Laat afkoel. Bedek en plaas ‘n paar uur in
yskas. Keer stolvorm uit en sny in blokkies. Plaas blokkies op uitgespoelde
bakplaat en laat staan sowat 2 dae lank of tot blokkies hul taaiheid verloor
het. Rol blokkies in mengsel van gesifte versiersuiker en mielieblom en verpak
in blikkies of boksies.
TANT NAN SE ROOMYS
1 Blikkie ingedampte melk
1 Blikkie kondensmelk
2 ml suurlemoenskil, gerasper
5 ml suurlemoensap
Plaas die 2 blikke 24 uur lank in die yskas. Giet die ingedampte melk
in ‘n mengbak en klits deeglik. Voeg die kondensmelk asook suurlemoenskil en
sap by. Klits deeglik. Plaas in die vrieskas om te vries. Lewer 1.5 liter
roomys.
TOFFIE
625 ml bruinsuiker
250 ml water
125g botter of margarien
Vanielje geursel
Roer die suiker en die water in ‘n kastrol oor stadige hitte tot die
suiker alles opgelos is. Voeg die botter by en kook die mengsel sonder om te
roer tot dit die ligte kraakstadium bereik het. Voeg die geursel by. Gooi dit
in ‘n plat pannetjie wat met botter gesmeer is. Merk klein vierkantjies daarop
met ‘n mes voordat dit koud word. Sny in blokkies voordat dit heeltemal hard
word.
TURKSE LEKKERS (Turkish Delight)
45 ml gelatien
125 ml koue water
500 ml strooisuiker
190 ml kookwater
4 ml wynsteensuur
1 suurlemoen se sap
5 ml vanielje geursel
Pienk voedsel kleursel
Spons gelatien in koue water. Verhit suiker en kookwater saam tot
suiker opgelos het. Voeg
wynsteensuur by en verhit tot kookpunt. Laat vir sowat 5 minute kook.
Roer suurlemoensap by en verwyder van hitte. Los gelatien oor warm water op en
giet by. Roer deeglik en voeg geursel by. Voeg kleursel by mengsel [indien
verkies]. Giet in gesmeerde vlak pannetjie en laat afkoel. Sny in blokkies en sif
versiersuiker oor.