AALWYN KONFYT
Sny die onderste ou aalwynblare so naby as moontlik teen die stam af
waar die blare op hul dikste is. Pak dit regop met die gesnyde kant na onder en
laat ´n dag só staan om soveel sap as moontlik te laat uitloop. Sny die kante
en die punte af sodat die binneste wit deel wat oorbly, minstens 10 mm dik is, anders
is die konfytstukke te dun.
Sny die wit gedeeltes in stukke van sowat 30 mm vierkantig en skil
elkeen af, bo en onder. Nou is die snyery en skillery klaar. Die stukke moet ´n
paar uur goed in skoon water geweek en daarna ´n paar keer in lopende water
afgespoel word tot daar nie meer ´n teken van die geel, bitter sap is nie. Nou kan dit verwerk word nes
waatlemoenkonfytstukke:
Prik elke stuk goed aan weerskante met ´n vurk met dik tande. Laat lê
die stukke oornag in helder kalkwater. Maak genoeg kalkwater aan om die stukke
te bedek deur 2 eetlepels kalk in die korrekte hoeveelheid lou water op te los.
(Kalk is by apteke te koop). Roer elke nou en dan tot die water koud is. Gooi
die helder water bo af en gebruik. Spoel die stukke in vars water af en
dreineer.
Weeg: Vir elke 2,7 kg stukke word 3,2 kg suiker en 2 liter water
gebruik. Sowat 4 eetlepels
suurlemoensap sal keer dat die stroop sandsuiker word, terwyl ´n
handvol vyelote vir ´n heerlike geur sorg. Kook die stukke eers sowat 30 minute
in water. Dit sal nie sag word nie, maar absorbeer die stroop dan beter.
Dreineer. Kook intussen die stroop. Voeg die stukke stadig op ‘n keer by sodat
die stroop nie ophou kook nie. Laat kook sowat 1½ uur tot die stukke
deurskynend is en die stroop begin verdik. Laat oornag staan om goed af te
koel. Dit is wanneer die aalwynstukke die stroop absorbeer. Haal die stukke die
volgende
oggend uit die stroop. Verhit die stroop weer tot kookpunt en plaas
die stukke terug in die warm stroop.
Pak die konfytstukke warm in gesteriliseerde flesse. Maak vol met
stroop en verseël.
APPELKOOSKONFYT
1kg appelkose
5 x 250ml suiker
Was die appelkose, halveer dit en verwyder die pitte. Pak die vrugte
in lae met suiker in ‘n groot kastrol. Laat dit 12 uur lank staan. Verhit dit
stadig oor lae hitte totdat die suiker heeltemal opgelos is. Kook die konfyt
ongeveer 30 minute lank vinnig. Skep skuim wat bo-op vorm af. Die konfyt moet
helder wees en soos dik lawa lyk. Skep die konfyt in warm, droë,
gesteriliseerde flesse en verseël dadelik.
APPELLIEFIE KONFYT
1 kg appelliefies
750g suiker
125 ml water
20ml suurlemoensap
Trek die doppies en stingeltjies van die appelliefies af. Spoel vrugte
af. Plaas suiker, appelliefies, water en suurlemoensap in 'n groot genoeg
kastrol. Kook vrugte oor lae hitte totdat dit soos konfyt begin lyk. Roer af en
toe om suiker op te los. Skep oortollige skuim wat gedurende die kooktyd gevorm
het, af. Toets die konfyt om te sien of dit styf genoeg is. Skep in warm
gesterilliseerde flesse en verseël dit onmiddellik terwyl dit nog warm is.
DRIE-SITRUS MARMELADE
2 lemoene
2 pomelos
2 suurlemoene
1,5 - 2 liter water
Wit suiker
Sny die skil van vrugte in repies en trek versigtig af. Sit in
gaasdoekie en bind vas. Sny heel vrugte in wiggies en verwyder die pitte.
Verwyder die wit gedeeltes. Meet hoeveel pulp en sit in kastrol. Voeg 500 ml
water vir elke 250 ml pulpmengsel. Verhit tot kookpunt. Verlaag hitte en kook
vir nog 40 minute oor stadige hitte. Giet die mengsel in maatbeker en voeg dan
250g witsuiker by vir elke 250 ml pulp.
Giet alles - ook skilsakkie - in kastrol. Verhit stadig tot suiker
opgelos is. Verhit en kook mengsel vir 25 minute, totdat dit nie meer waterig
is nie. Laat afkoel, as dit stewig en nie meer loperig is nie, is dit reg.
Skep warm marmelade in bottels wat gesteriliseer is. Lewer sowat 2
liter marmelade.
Opsioneel: 1 Gesnyde pynappel kan
ook bygevoeg word. Vir iets anders!
GEELPERSKE KONFYT
2.5kg geelperskes
750 ml water
7 x 250 ml suiker
5 ml wynsteensuur
Ontpit en skil die perskes. Snipper dit. Plaas perskes in ‘n kastrol
en voeg die water by. Kook die snippers ongeveer 10 minute lank totdat dit sag
is. Roer die suiker en wynsteensuur by totdat die suiker heeltemal opgelos is.
Stel die plaat laer en kook die konfyt oor matige hitte totdat dit soos dik
lawa lyk. Toets of stolpunt bereik is. Skep in warm, droë, gesteriliseerde
flesse en verseël dadelik.
GROEN SOETRISSIE KONFYT
Die konfyt is heerlik op roosterbrood. Maak net seker jy kap die
soetrissies baie fyn
4 koppies fyn gekapte groen soetrissies
500 ml suiker
2 ml sout
2 ml gemmer
2 ml gemengde speserye
Meng alle bestanddele in 'n vlekvrye staalpot en laat staan vir 2½
uur. Kook daarna vir 40 minute oor matige hitte tto stroop begin dik word.
Verwyder van stoof en bottel warm.
TURKSVY FYNKONFYT
Skil 1 kg ryp turksvye dun af en sny dit in klein stukkies op. Voeg
625 ml water by. Verhit dit tot kookpunt en kook dit 'n kwartier lank met die
deksel op. Haal die kastrol van die stoof af. Voeg 375g wit suiker, die sap van
'n halwe suurlemoen, 1 knoets gekneusde, gedroogde gemmerwortel en 'n knippie sout
by die warm turksvymoes. Verhit die mengsel stadig tot kookpunt en roer dit aan
die begin totdat al die suiker opgelos is. Kook dit oor matige hitte totdat die
konfyt helder en dik is. Verwyder die gemmer en gooi dit weg. Skuim die konfyt
af, indien nodig. Bottel dit warm en verseël dit wanneer afgekoel.
UIE KONFYT
Heerlik saam met alle vleissoorte
450g uie, in ringe gesny
100g preie, in ringe gesny
50g grasuie, fyngekap
1 liter water
750 ml suiker
5 ml gemengde speserye
Kook die ui, prei en grasui in 'n bietjie water tot net sag. Dreineer
goed. Voeg die water, suiker en speserye by en roer tot die suiker opgelos is.
Bring tot kookpunt en prut tot die mengsel verdik en nie meer waterig is nie.
Skep in gesteriliseerde flesse terwyl dit nog warm is. Lewer 750 ml.
UIE MARMELADE
150 ml olyfolie
20 ml mosterdsaad
1 kg rooi uie, geskil, in dun ringe gesny
25 ml gemmer, vars, gerasper
2 vars lourierblare
100 ml bruinsuiker
150 ml rooi wynasyn
100 ml rooiwyn
Fyngerasperde skil en sap van 2 lemoene
Verhit die olie in ‘n groot swaarboomkastrol en soteer die uie stadig
oor ‘n lae hitte tot dit sag is (sowat 25 minute). Roer dit af en toe. Voeg die
res van die bestanddele by en prut saggies tot die sappe verdik. Geur na smaak
met sout en en vars gemaalde peper en laat staan 8 uur sodat die geur goed deurtrek.
Skep in droë, skoon en warm flesse en bêre in yskas. Sit voor met gebraaide
beesvleis, ham
of kaas.
VYE KONFYT
2.5 kg vye
3 knoetse gedroogde gemmerwortel
2.5 kg wit suiker
1 liter water
500 ml druiwe asyn
Sny die vye in stukkies op. Kneus die gemmer en bind in 'n stukke
moeselien of kaasdoek toe. Verhit die suiker, water en asyn tot kookpunt en
roer dit aan die begin totdat al die suiker opgelos is. Kook dit 10 minute
lank. Voeg die vye en gemmersakkie by die stroop en prut die mengsel ongeveer 4
uur lank totdat dit dik is. Verwyder die gemmersakkie en gooi dit weg. Skuim
die konfyt af indien nodig, en laat dit 'n paar minute afkoel. Roer die konfyt
goed deur, bottel dit warm en verseël dit dadelik.
WAATLEMOEN KONFYT
1 Groot waatlemoen
Kalkoplossing:
12.5 ml kalk
3.6 liter water
Water om te week
Water om in te kook
Verwyder groen skil en sagte binneste van waatlemoen. Sny wit skil in
stukke. Prik elke stuk baie goed met ‘n vurk en weeg die stukke. Plaas oornag
in kalkoplossing. Spoel die volgende dag baie goed af en laat in skoon water
week vir ten minste 2 uur. Plaas skoon water in groot kastrol en verhit tot
kookpunt.
Voeg stukke een vir een by terwyl water voortdurend kook. Indien water
ophou kook, sal stukke pap word. Kook tot stukke helder is, en 'n tande stokkie
maklik daardeur gesteek kan
word.
Stroop:
500g suiker en 1 liter water vir elke 500g vrugte
Sap van 1 suurlemoen
Knypie sout
5 stukke gemmerstukke