AARTAPPELSOP
10 aartappels
1 liter water
40 ml botter
3 uie, fyn gekap
10 ml sout
2 ml peper
knippie fyn neut
15 ml pietersielie
375 ml room of melk
10 ml worcestersous
Skil en sny die aartappels in blokkies. Kook in water tot sag. Druk
aartappels in water fyn. Braai uie in die botter tot bruin. Voeg dit by die
aartappels. Voeg die sout, peper, neut en pietersielie by. Voeg die room of
melk by die aartappelmengsel en meng. Voeg die worcestersous by. Laat die sop
op kook. Indien te dik, verdun
met melk. Sit sop met roosterbrood voor.
BOONTJIESOP MET SPEKBLOKKIES
500g pakkie droƫ suikerbone oornag geweek in koue water
250g gerookte spek, in blokkies gesny
1 varkpootjie
2.5 liter water
1 groot ui gekap
1 wortel, grof gerasper
65g (1 blikkie) tamatiepasta
2 lourierblare
6 wonderpeperkorrels
3 kruie naeltjies
‘n Paar gekapte takkies pietersielie
10 ml bruinasyn
Sout en varsgemaalde swartpeper
2 knoffelhuisies skoongemaak
Olyfolie
Spoel bone af onder koue water en dreineer. Dompel varkpootjie vinnig
in kookwater en was goed af. Skep spek in ‘n groot kastrol en braai oor lae
hitte tot bros. Skep uit. Braai varkpootjie in dieselfde kastrol tot bruin
alkante. Skep bone by varkpootjie in kastrol en voeg water by. Verhit tot
kookpunt, en skep skuim af met gaatjieslepel. Voeg res van bestanddele tot en
met bruinasyn by. Verhit tot kookpunt. Verlaag hitte en laat stadig prut met
deksel op kastrol vir sowat 2½ - 3 ure of tot bone sag is. Geur na smaak met
sout en swartpeper. Verwyder varkpootjie en druk sommige van die bone fyn met
‘n aartappeldrukker. Proe en geur na smaak indien nodig.
DIK GROENTESOP
500 ml haricot bone
Ekstra water
25 ml olie
2 uie of preie gekap
3 wortels, gekap
3 selderystingels, met blare gekap
2 aartappels, in blokkies gesny
625 ml kool, gerasper
150 ml groenbone, in stukkies gesny
2 biefekstrak blokkies
500 ml kookwater
4 middelslag tamaties, in blokkies
12.5 ml sout
2 ml peper
Ongeveer 2 liter water
Week die haricot bone oornag in water. Dreineer . Vul kastrol met 1
liter vars koue water en kook tot sag. Verpulp die bone of druk dit fyn. Verhit
die olie en soteer die groente, behalwe die tamaties ongeveer 15 minute lank
daarin totdat dit sag is. Roer dit aanhoudend sodat dit nie aanbrand nie. Los die
biefekstrak blokkies op in die kookwater en voeg dit saam met die tamaties en
geurmiddels by die groente. Voeg ook die bone by. Plaas die deksel op en laat
prut ongeveer 30 minute lank. Vul die vloeistof aan as dit wegkook. Daar moet
ongeveer 2 liter sop wees.
ROMERIGE BOTTERSKORSIESOP
1 groot botterskorsie, geskil, in blokkies gesny
3 aartappels, geskil, in blokkies gesny
1 ui, grofgekap
1 tamatie, vel verwyder en grofgekap
1 liter hoenderaftreksel
125 ml vars room
10 ml sout
Varsgemaalde swartpeper na smaak
3 ml fyn komyn
3 ml kerriepoeier
3 ml fyn koljander
20 ml gekapte, vars pietersielie
Plaas die botterskorsie, aartappels, ui, tamatie en hoenderaftreksel
in 'n groot kastrol. Bring tot kookpunt,. Verlaag die hitte. Plaas deksel op en
laat saggies prut totdat die groente sag is (sowat 30 minute). Verpulp groente
en aftreksel in 'n voedselverwerker. Gooi verpulpte groente terug in die kastrol.
Voeg room en geurmiddels by en verhit tot goed deurwarm. Garneer met
pietersielie en sit voor met vars sesamsaad broodrolletjies.
SPEK EN LENSIESOP
6 repe swoerdlose strepiespek, gekap
4 snye witbrood, korsies afgesny
30 ml botter
2 groot uie, fyngekap
4 groot wortels, gerasper
500 ml oranje lensies, afgewas
3 selderystingels, punte verwyder en gekap
2 liter hoenderaftreksel
2 lourierblare
2 ml gedroogde basiliekruid
15 ml pietersielie, vars gekap
15 ml suurlemoensap
Braai die spek vir 3 minute oor lae hitte. Haal uit die pan en hou
eenkant. Sny die brood in blokkies en sit by die vet in die braaipan. Braai die
brood tot goudbruin aan albei kante [croutons] en hou eenkant. Verhit die
botter in 'n groot kastrol. Soteer die uie vir 2 minute. Voeg die seldery en
wortels by en kook vir 4 minute. Roer 2 keer. Voeg die lensies,
hoenderaftreksel, geurmiddels, lourierblare en basiliekruid by. Bring tot
kookpunt, verlaag die hitte en laat vir ongeveer 2 uur lank stadig prut. Roer
af en toe. Roer die spek en pietersielie net voor opdiening by. Laat 2 minute
prut en sit dan voor met bereide croutons bo-op. Lewer 6 porsies.
TAMATIESOP
40 ml margarien
750g tamaties, in kwarte gesny
1 liter hoenderaftreksel
1 ui, gekap
1 lourierblaar
3 ml vars gemaalde swartpeper
3 ml sout
5 ml lemoenskil, fyn gerasper
10 ml suurlemoensap
5 ml suiker
Verhit die margarien en roerbraai die tamaties sowat 10 minute lank.
Voeg alles behalwe die
suurlemoensap en suiker by en laat dit 45 minute lank prut. Vryf die
mengsel goed deur ‘n sif [of plaas mengsel in voedselverwerker]. Voeg die
suurlemoensap en suiker by en her-verhit die sop tot kookpunt.
Bedien dadelik.