Groente

BEET EN PAMPOENMOES

1 bossie beet
4 aartappels
¼ pampoen, geskil, ontpit en in blokkies gesny
garam masala
mosterd
peperwortel

Kook beet in water tot net sag. Trek skilletjies af en kap fyn. Kook pampoen asook aartappels apart sag en maak fyn met 'n aartappeldrukker. Meng beet met helfte van die aartappels, geur met bietjie mosterd peperwortel, meng orige aartappel met pampoen en geur met garam masala. Skep beetlaag in 'n plat bak en skep 'n pampoenlaag bo-op.


BOTTERBEETJIES

Kies jong beet en was dit goed. Plaas in ‘n kastrol en bedek met kookwater. Laat dit 2 uur lank kook of totdat die beet sag is. Haal uit die water en trek die skilletjies af, en sny die stingeltjies uit. Sny die beet in helftes Gooi gesmelte botter daaroor en dien warm op.


GEBAKTE KOOL

1 liter fyn gekerfde kool
150 ml room
5 ml suiker
1 ml sout
1 ml paprika
50 ml gedroogde broodkrummels
150 ml gerasperde Cheddarkaas

Skep die gekerfde kool in ‘n bakskottel. Meng die room, suiker, sout en paprika goed en gooi die dit oor die kool. Strooi die broodkrummels oor en bak met die deksel op vir 30 minute. Verwyder uit die oond. Strooi die kaas oor en bak vir ‘n verdere 10 minute. Bedien warm.


GEROOMDE SPINASIE

1 bossie spinasie
15 ml botter
125 ml room
10 ml suiker
‘n Knippie elk sout, peper en neutmuskaat
15 ml suurlemoensap

Was die spinasie deeglik af in ‘n groot wasbak vol water. Kerf fyn. Smelt die botter in ‘n middelgroot swaarboomkastrol. Gooi die nat, gekerfde spinasie in die bottter en roerbraai tot net verlep. Voeg die room by en laat vinnig kook om die vog in te damp en geur te konsentreer. Geur met sout, peper, neut, suurlemoensap en suiker.
Nota: Fyn, bros gebraaide spek kan heel laaste ook bygevoeg word.


GESTOOFDE PATATS

6 klein of 4 middelslag patats
12,5 ml sout
30 ml bruinsuiker
60 ml kookwater
60 ml botter
'n Paar stukkies heel kaneel

Voorverhit die oond tot 200ºC . Was en skil die patats en sny in skywe. Kook dit 30 minute lank tot sag. Voeg die sout by. Sny elke patat in die lengte deur en plaas in 'n oondvaste bak. Maak die stroop deur die suiker in die kokende water op te los en die botter by te voeg. Verhit tot die botter gesmelt is. Vir 'n mooi bruin stroop kan die suiker eers droog in 'n kastrol verhit word terwyl dit aanhoudend met 'n houtlepel geroer word tot dit mooi bruin en gesmelt is. Voeg dan die kokende water by. Roer tot dit in die water opgelos is en voeg die botter by. Giet die stroop oor die patats. Voeg 'n paar stukkies heel kaneel by vir geur, en bak sowat 30 minute lank tot dit bruin is.


GEURIGE KOOL VAN OUMA FRIEDA

1 klein koolkop, gekerf
2 wortels, gerasper
2 uie, gekerf
1 kg maalvleis
1 pakkie hoendernoedelsop
5 ml borrie
2 eetlepels kerrie (matig)
1 teelepel sout
1 ml swartpeper
4 eetlepels botter
125 ml room

Gebruik ´n groot braaipan. Braai die uie in 4 eetlepels botter tot ligbruin. Voeg die kool by en roerbraai vir ongeveer 30 minute. Voeg nou vleis, wortels en geurmiddels by. Maak sop aan met 500 ml water en gooi helfte by. Prut vir 30 minute en gooi af en toe van die res van die sop by - of as dit nodig is kan meer water by gegooi word (moenie laat dit brand nie). Roer die room by. Bedien met “neut” gegeurde rys of vars broodjies en ‘n mengelslaai.


SKORSIEMOES

Oorryp, draderige skorsies is heerlik as mens dit op dié manier voorberei

5 skorsies
15 ml botter of margarien
125 ml suiker
5 eetlepels koekmeelblom
10 ml bakpoeier
2 ml sout
250 ml melk
3 eiers
15 ml kaneelsuiker

Verhit die oond tot 180ºC. Smeer 'n oondvaste bak. Halveer die skorsies en skep die pitte uit. Kook die halwes tot sag. Dreineer dit. Skep die vleis uit, maak dit fyn en roer die margarien of botter by. Sif die suiker, koekmeelblom, bakpoeier en sout saam. Klits die melk en eiers saam en maak die meelmengsel daarmee aan. Voeg die skorsiemoes by en meng dit goed. Skep die mengsel in die bak en strooi die helfte van die kaneelsuiker oor. Bak die moes 'n uur lank onbedek. Strooi die res van die kaneelsuiker oor en sit die gereg voor.


SOET PATATS

1 kg patats
125 ml heuning
60g botter
Knippie sout
80 ml water

Voorverhit die oond tot 200ºC. Smeer 'n oondpan met 'n lagie botter. Kook patats in skilletjies in soutwater tot net sag. Skil af sodra effens afgekoel [of los aan, indien verkies] en sny in skywe. Verhit heuning, botter, sout en water saam oor matige hitte. Plaas patatskywe in lae in bereide oondbak met 'n lagie heuningsous tussen elke lagie. Skep orige sous bo-oor. Bak in oond vir sowat 30 minute tot sous deur patats getrek het en glansend lyk. Lewer 6 - 8 porsies.