Happies

"BROWNIES"

100 ml botter
375 ml suiker
100g goeie gehalte bitter sjokolade in blokkies
Knippie sout
5 ml vanielje geursel
3 ekstra groot eiers
250 ml koekmeelblom
30 ml kakao
100g okkerneute

Voorverhit oond tot 180ºC. Smeer 'n vierkantige koekpan of vuurvaste bak. Plaas sjokolade en botter in 'n klein kastrol en roer oor lae hitte totdat alles gesmelt is. Roer suiker en sout by gesmelte botter en sjokolade tot goed gemeng. Voeg vanielje geursel by. Voeg eiers een-een by en roer deeglik na elke byvoeging om te verseker dat elke eier deeglik ingeroer is, voordat die volgende een bygevoeg word.

Verwyder van plaat en klits die sjokolade mengsel met 'n handklitser vir een minuuut tot glad en romering. Sif meelblom en kakao saam. Kap okkerneute grof en voeg by. Voeg sjokolademengsel by droë bestanddele en vou in met 'n groot metaallepel. Giet in voorbereide pan en bak vir 30 - 35 minute. Verwyder uit oond en laat staan vir 15 minute om af te koel.

Versiersel:
100g goeie gehalte bittersjokolade in blokkies
100ml room

Plaas room in 'n klein kastrolletjie en verhit tot kookpunt. Verlaag hitte en laat met 'n derde indamp. Verwyder van hitte en roer sjokoladeblokkies by tot gesmelt. Laat staan tot smeerbaar. Maak koek langs kante los en keer versigtig uit. Smeer versiersel oor en sny in blokkies. Lewer 12 blokkies.


CRUNCHIES

250g botter
50 ml gouestroop
10 ml koeksoda
250 ml koekmeelblom
250 ml witsuiker
500 ml hawermout
250 ml klapper Knypie sout

Smelt die botter en gouestroop. Voeg die koeksoda by en meng. Meng die droë bestanddele en roer dit in by botttermengsel. Druk dit met ‘n spaan in rolkoekpan van ongeveer 40 x 27cm. Bak dit ongeveer 20 minute tot goudbruin by 160ºC. Laat dit effens afkoel. Sny in vierkante van 5 x 5 cm. Lewer ongeveer 40 koekies.


KOEKSISTERS

Berei eers die stroop voordat met deeg begin word – dit moet koud wees

Stroop:
4 koppies suiker
375 ml water
2.5ml kremetart
2.5 ml fyn gemmer
2 stukke pypkaneel
Gliserien

Los die suiker in die water op. Voeg die kremetart, gemmer en kaneel by en laat die stroop 5 minute lank kook. Voeg 5 - 10 ml gliserien by net voordat die stroop van die hitte afgehaal word om mooi blink koeksisters te verkry. Hou die bak stroop in ‘n groot skottel met ysblokkies terwyl die koeksisters daarin gedoop word om te voorkom dat die stroop gou warm word. Lewer 5-6 dosyn koeksisters.

Deeg:
4 koppies meelblom
2.5 ml sout
30 ml bakpoeier
50 ml botter of margarien
1 eier
Melk of water (250-375ml)
Olie om in te bak

Sif die droë bestanddele saam, en vryf die botte met die punte van die vingers daarin. Klits die eier, voeg die melk of water daarby en maak dit aan tot ‘n sagte deeg. Knie dit goed tot dit glad is. Laat dit vir 2 uur of langer staan. Rol die deeg 1cm dik uit, sny in repies en vleg of draai hulle. Bak hulle 1 – 2 minute lank in warm olie tot ligbruin. Sit 5 - 6 koeksisters gelyktydig in die olie. Laat aan die een kant bruin braai en draai om, sodat die ander kant ook kan verkleur. Haal met ‘n skuimspaan uit, dreineer hulle ‘n oomblik lank op bruinpapier en dompel hulle dan ‘n paar sekondes lank in die koue stroop.


OUMA NANNA SE OLIEBOLLETJIES (Mini Dougnuts)

4 x 250 ml koekmeelblom
250 ml suiker
30 ml bakpoeier
2 eiers, geklop
250 - 300ml water
125 ml rosyne
750 ml (om in te braai)

Om in te rol:
Meng 500 ml suiker en 30ml fyn kaneel

Meng meel, suiker en bakpoeier in 'n mengbak. Klop eiers en water, voeg by meelmengsel en meng goed. Roer rosyne by. Verhit die olie tot warm en skep elke keer 'n eetlepel van die beslag in die warm olie. Braai bolletjies alkant tot goudbruin. Moenie meer as 4 bolletjies gelyk braai nie. Skep met 'n gaatjieslepel in uit, dreineer oortollige olie en rol in kaneelsuiker. Bedien.
Lewer sowat 30 bolletjies. Oliebolletjies moet nie lank gebêre word nie, want dit word gou sag.


PANNEKOEK

3 x 250 ml gesifte bruismeel
3 eiers
½ teelepel sout
37.5 ml kookolie
10 ml suiker (opsioneel)
400 ml melk of water
Kaneelsuiker

Meng die eiers, bruismeel, sout, kookolie, en suiker (opsioneel) saam. Voeg nou 'n bietjie water of melk by die mengsel. Meng nou deeglik tot die mengsel glad en sonder klonte is - die mengsel moet nou 'n egalige tekstuur wees. Voorverhit die pan. Voeg 'n teelepel olie in die pan, skommel die pan sodat die oppervlak bedek is. Gooi nou van die mengsel in die pan. Wag tot die mengsel "droog" raak en draai dan om. Strooi kaneelsuiker bo-oor en rol op. Hou warm deur 'n bord op 'n kastrol met stadig kokende water te plaas en die pannekoek daarin te plaas.


PLAATKOEKIES

2 eiers
125 ml suiker
250 ml melk
25 ml gesmelte margarien of olie
500 ml meelblom
20 ml bakpoeier
2.5 ml sout

Klits die eiers en suiker saam. Voeg 125ml melk en margarien by. Sif die meelblom, bakpoeier en die sout saam en voeg dit by die eiermengsel. Voeg die orige melk geleidelik by om 'n gladde mengsel te vorm. Moet die mengsel nie weer roer nadat alles goed gemeng is nie. Bak in 'n warm pan waarin bietjie olie gedrup is. Bak eers aan die een kant en as dit bo-op lugblasies vorm, draai die koekies om en bak ook aan die anderkant tot goudbruin. Dien op met botter en stroop of heuning.


SMULSTAFIES (12 stafies)

125 ml volkoringmeel
250 ml hawermout
1 ml koeksoda
125 ml klapper
125 ml bruin suiker
250 ml pitlose rosyne
150 g margarien, gesmelt
15 ml heuning

Voorverhit oond tot 180ºC. Smeer die bakplaat. Meng die volkoringmeel, hawermout, koeksoda, klapper, bruin suiker en pitlose rosyne saam in 'n groot mengbak. Meng die gesmelte margarien en heuning saam in 'n aparte bak. Roer goed. Voeg margarien-heuningmengsel by die droë bestanddele en meng deeglik met 'n houtlepel. Druk die mengsel eweredig vas op die bakplaat. Bak 20 minute lank tot goudbruin. Sny in stafies terwyl nog warm. Laat heeltemal afkoel.


STROOP POFFERTJIES

Berei eers die stroop voordat met deeg begin word – dit moet koud wees

Stroop:
1 liter water
1,125 ml witsuiker
Sap van 1 suurlemoen

Verhit die water en die witsuiker tot kookpunt en roer net totdat die suiker gesmelt het. Kook dit sowat 10 - 12 minute lank oop. Laat afkoel. Roer die suurlemoensap by en verkoel tot yskoud. Gooi dit in ‘n diep houer soos ‘n liter-maatbeker.

Beslag:
60 ml witsuiker
30 ml margarien, by kamertemperatuur
2 eiers
500g bruismeel
15 ml bakpoeier
1 ml sout
Fyn gerasperde skil van 1 suurlemoen
500 ml kookwater
Sonneblomolie vir diep braai

Klits die witsuiker, margarien en eiers goed saam. Sif die bruismeel, bakpoeier en sout bo-oor. Voeg die suurlemoenskil en kookwater by en roer tot gemeng. (Dit is ‘n slap beslag). Verhit olie tot matig warm. Skep dessertlepelsvol van die beslag in die olie en bak dit eers aan die een kant en dan aan die ander kant tot goudbruin. Skep die gaar poffers vinnig met ‘n dreineerspaan uit en dompel dit dadelik in die koue stroop. Skep dit uit en laat die oortollige stroop afdrup. Bewaar dit in die koelkas.


TAMBOESIES

1 rol skilferdeeg
1 eier geklits
500 ml vars room
50 ml strooisuiker
6 ml vanielje geursel
250 ml gesifte versiersuiker
30 ml kookwater
2 ml suurlemoensap
Geel voedselkleursel

Rol die helfte van die deeg uit en sny in 4.5cm vierkantjies. Verf liggies met geklitste eier. Plaas op 'n bakplaat wat met water besproei is en bak in 'n voorverhitte oond by 200ºC tot goudbruin. Laat afkoel, sny deegvierkante oop tussen die gerysde lagies. Klop room met strooisuiker en vanielje geursel styf. Spuit room op die onderste een lagie en plaas 'n vierkantjie bo-op. Meng gesifte versiersuiker met kookwater en suurlemoensap en 'n paar druppels voedselkleursel. Skep versiersel drupsgewys oor elke tamboesie.


YSTERVARKIES

Laagkoek:
250 ml melk
25g botter
4 eiers
375 ml strooisuiker
5 ml vanielje geursel
500 ml meelblom
20 ml bakpoeier
12.5 ml meelblom

Kook melk en botter en laat afkoel. Klits eiers met strooisuiker en vanielje geursel. Sif 375 ml meelblom en sout 3 keer saam. Meng bakpoeier met 12.5 ml meelblom. Meng eiers met gesifte meelblom. Voeg melk by en roer bakpoeier laaste by. Bak 25 minute by 200ºC. Sny in blokke.

Stroop:
500 ml suiker
20 ml kakao
¾ koppie water
Knippie sout
Klapper

Kook alles vir 3 minute. Hou warm. Gooi oor stukke koek. Rol in klapper.