Brode

BRUINBROOD

600 ml witbroodmeel
560 ml volkoringmeel
600 ml bruinbroodmeel
1 x 10g kitsgis
sout na smaak
500 – 750 ml warm water

Meng die meel, gis en sout in 'n groot mengbak. Maak 'n holte in die meel en voeg 500 ml van die water by. Meng met 'n lepel tot 'n stywe deeg vorm. As die deeg te styf is, kan nog water bygevoeg word. Knie deeg op 'n houtplank wat liggies met meel bestrooi is, tot glad en elasties. Vorm die deeg in twee gesmeerde broodpanne. Bedek en laat rys tot dubbel die volume. Bak 40-60 minute in 'n voorverhitte oond by 200ºC. Laat op 'n draadrak afkoel.


DADELBROODJIE

375g fyn gekerfde dadels
5 ml koeksoda
125g margarien in klein blokkies gesny
250 ml kookwater
190 ml suiker
1 eier, geklits
5 ml vanielje geursel
500 ml meelblom
5 ml bakpoeier
125 ml gekapte neute

Plaas die dadels, margarien en koeksoda in ‘n mengbak. Gooi kookwater bo-oor. Roer en laat staan om koud te word. Klits eier, suiker en vanielje geursel goed en gooi by die  adelmengsel. Sif meelblom en bakpoeier saam en vou by die dadelmengsel in. Gooi neute by en meng goed. Bak 1 uur lank in ‘n voorverhitte oond van 180ºC in ‘n gesmeerde broodpannetjie.


GEMMERBROOD

250 ml olie
3 eiers
250 ml gouestroop
250 ml louwarm water
5 ml koeksoda opgelos in 60 ml louwarm water
750 ml koekmeelblom
knippie sout
5 ml bakpoeier
15 ml fyn gemmer
10 ml gemengde speserye
250 ml suiker

Voorverhit die oond tot 180ºC. Smeer twee broodpannetjies met margarien. Klits die olie, eiers, gouestroop en water saam in 'n mengbak tot goed gemeng. Sif die droë bestanddele een vir een oor en voeg dan die suiker by. Klits tot goed gemeng, sowat 5 minute. Giet in voorbereide panne. Bak sowat 45 minute lank of totdat 'n mespunt skoon uit die middel van die brood kom. Laat effens afkoel en keer op 'n draadrak uit. Laat heeltemal afkoel en bedien met botter.


KORINGROERBROOD

5 x 250 ml gaar koringkorrels       
6 x 250 ml bruinbroodmeel
2 x 10 g kitssuurdeeg
25 ml sout
60 ml bruinsuiker
125 ml kookolie
1 liter louwarm water

Meng die koringkorrels, bruinbroodmeel, suurdeeg en sout in´n mengbak. Plaas die suiker, olie en water in ´n ander mengbak en roer tot goed gemeng. Voeg dié mengsel by die droë bestanddele en roer goed deur. Skep die deeg in twee gesmeerde broodpannetjies Laat op ´n warm plek rys tot gelyk met die borand van pan. (Dit duur sowat ´n halfuur - die brood rys ook terwyl dit bak). Stel intussen die oond op 200ºC. Wanneer die deeg gereed is, bak sowat een uur tot gaar in die voorverhitte oond. Die brood is gaar as ´n mens ´n hol klank kry wanneer jy dit onder met die kneukels klop.


LEMOEN EN ROSYNTJIE BROOD

Sap en skil van 1 lemoen
250 ml rosyne
1 eier, effens geklits
30 ml botter, gesmelt
500 ml koekmeelblom
5 ml bakpoeier
2 ml koeksoda
2 ml sout
125 ml suiker
100g pekanneute, fyngekap

Voorverhit die oond tot 180ºC. Smeer ‘n broodpan van 23 x 13 x 7 cm met margarien. Vul die lemoensap aan met water tot 250 ml. Voeg die gerasperde lemoenskil asook die die rosyne by. Meng die eier en botter en voeg by. Meng goed. Sif die koekmeelblom, bakpoeier, koeksoda en sout saam. Voeg die suiker en gekapte pekanneute by en meng deur. Voeg die lemoensap mengsel by die droë bestanddele en meng deeglik. Skep in voorbereide pan en bak 1 uur lank of tot gaar. Laat effens afkoel en keer uit op ‘n draadrak. Laat heeltemal koud word voordat dit gesny word. Dien op saam met botter.


PIESANG BROOD

125g botter
250g strooisuiker
2 ekstra-groot eiers
30 ml joghurt of suurmelk
5 ml vanielje geursel
6 ryp, fyngemaakte piesangs
60 ml gekapte neute (opsioneel)
250g koekmeel
5 ml koeksoda
1,5 ml sout

Room die botter en strooisuiker saam tot lig en donsig. Klits die eiers liggies met 'n vurk en voeg dit saam met die joghurt en vanielje geursel geleidelik by die bottermengsel. Vou die piesangs en neute in. Sif die koekmeel, koeksoda en sout twee maal saam. Vou dit in die piesangmengsel tot goed gemeng. Smeer en voer 'n broodpannetjie met botterpapier uit. Giet die beslag daarin. Bak dit 50 - 60 minute in 'n voorverhitte oond by 180ºC tot goudbruin en stewig. Laat heeltemal afkoel.


POLENTA BROODJIE

500 ml polenta
250 ml koekmeelblom
2.5 ml sout
5 ml bakpoeier
2 eiers, geklits
125g botter, gesmelt
50 ml heuning
250 ml karringmelk
papawersaad om oor te sprinkel

Voorverhit die oond tot 200ºC. Voer ‘n broodpan uit met papier en smeer. Meng die droë bestanddele. Voeg eiers, botter, heuning en karringmelk by en roer tot gemeng. Skep in broodpan en sprinkel papawersaad oor. Bak vir 35 minute. Keer uit en laat afkoel.


WITBROOD

1 kg witbroodmeel
15 ml sout
10 ml suiker
1 x 10g kits droëgis
20g botter
625 ml lou water

Sif die meel, sout, suiker en gis saam. Vryf botter by droë bestanddele in. Voeg lou water by en meng tot 'n sagte deeg. As die deeg te droog is, kan nog bietjie water bygevoeg word. Knie deeg tot sag en elasties. Plaas in 'n olie gesmeerde mengbak, bedek en laat 20 minute lank rus. Nadat deeg gerys het, knie af en verdeel in 2 ewe groot dele. Vorm en plaas in gesmeerde broodpanne. Bedek en laat rys op 'n warm plek vir 35 - 40 minute lank of tot dubbel die hoeveelheid deeg. Bestryk met water en bak in voorverhitte oond by 200ºC vir 35 minute of tot gaar.