Vleis Disse

BOBOTIE

1 dik sny witbrood
50 ml koue melk
500g gemaalde lamsvleis
1 ui (fyn gekap)
5 ml sout
1 ml vars gemaalde swartpeper
2 ml knoffelvlokkies
10 ml matige kerriepoeier
1 ml borrie
12,5 ml blatjang
12,5 ml asyn
3 eiers
1 lourierblaar
12,5 ml mielieblom
12,5 ml koue water
350 ml kookmelk

Voorverhit die oond tot 160ºC. Week die brood in die melk en druk dan die oortollige melk uit. Hou die sagte brood eenkant. Meng die maalvleis, ui, sout, peper, knoffelvlokkies, die helfte van die kerriepoeier, borrie, blatjang, asyn, 1 eier en die sagte brood. Skep die vleismengsel uit in 'n goed gesmeerde oondskottel. Steek die lourierblaar daarin en bak dit 15 minute lank op die middelste oondrak sodat die bobotie 'n kors bo-op kan vorm. Hou dit eenkant warm. Klits die oorblywende 2 eiers saam en hou dit eenkant. Meng die mielieblom, die res van die kerriepoeier en die koue water tot 'n gladde pasta en roer dit by die geklitse eiers. Voeg die kookmelk geleidelik by en laat dit prut totdat dit effens verdik. Roer dit voortdurend. Haal die mengsel van die plaat af en gooi dit oor die bobotie. Bak die bobotie nog 25 tot 30 minute lank op die middelste rak van die oond totdat dit ferm en ligbruin is. Bedien warm met blatjang.


DENNINGVLEIS

Denningvleis het die Maleiers vir ons gegee. Die woord beteken gegeurde vleis”. As jy nie tamaryn in die hande kan kry nie, kan jy 'n bietjie suurlemoensap of 'n kwartkoppie asyn gebruik. Maar tamaryn is eintlik die regte ding.

12.5 ml skaapvet
2 knoffelhuisies gekneus
2 uie in ringe gesny
10 ml suiker
1 kg dunrib of boudvleis (skaap) in blokkies gesny
4 kruie naeltjies
4 wonderpeperkorrels
2 lourierblare
Sout en peper
2 ml fyn neutmuskaat
125 ml water
2.5 ml tamaryn
Nog 125ml water

Smelt die skaapvet in 'n swaarboomkastrol. Voeg die knoffelhuisies en die uie daarby. Strooi suiker oor en smoor so in die pan tot die uie goudkleurig is. Skep uit en sit die vleis in die kastrol. Braai dit ook tot dit begin verkleur. Voeg nou die kruie naeltjies, wonderpeperkorrels, lourierblare, sout, peper en neut by die vleis en skep die uie en knoffel terug in die pot. Voeg 125 ml water by. Sit die deksel op en stowe vleis tot baie sag - dit neem ongeveer 1 tot 1½ uur. Week intussen die tamaryn in die orige 125 ml water. Syg die water deur 'n fyn sif en voeg dit by die vleis. Laat weer stowe, net so 'n rukkie om die geure goed te meng, en sit voor met rys of gekookte aartappels.


EEND MET LEMOEN

2 kg jong eend
Paprika
Sout en peper na smaak

Sous:
6 lemoene
1 suurlemoen
200 ml droë witwyn
30 ml bruinsuiker
1 hoenderekstrak blokkie
50 ml tamatiesous
10 ml mielieblom, gemeng met ‘n bietjie water

Sit solank oond aan op 180ºC. Sny alle sigbare vet van vleis af. Geur met paprika, sout en peper. Braai vleis in oond vir sowat 90 minute. Bestryk gereeld tydens braaityd. Sny die skil van 2 lemoene in baie dun repies. Skil ook alle witskil af en sny huisies tussen vliesies uit. Plaas huisies eenkant. Druk sap uit orige lemoene en suurlemoen. Maak ‘n sous deur skil, lemoen- en suurlemoensap, wyn, suiker, hoenderekstrak blokkie en tamatiesous in ‘n kastrol te plaas en vir 10 minute te laat prut. Verdik met mielieblom. Voeg lemoenhuisies by en verhit. Verwyder die vel van die eend voor bediening en skep die sous bo-oor.


GEROOSTERDE PIEPKUIKENS

2 piepkuikens, deur bors en ruggraat gehalveer

Sous:
30 ml tamatiesous
30 ml vrugte blatjang
20 ml aangemaakte mosterd
10 ml worcestersous
5 ml sojasous

Voorverhit die oond tot 200ºC. Verwyder die been van die ruggraat en sny 2 - 3 diagonale kepe in die borsgedeelte van die kuikens. Meng sous bestanddele saam en verf oor die hoenderhelftes. Plaas op die oondroosterrak. Rooster vir sowat 20 - 25 minute terwyl gereeld met sous bedruip word. Lewer 4 porsies.


KERRIEBOTTER HOENDER

8 hoenderdye, vel verwyder
Sap van een suurlemoen
15 ml masala
Sout en vars gemaalde swartpeper
60 ml olie
2 uie, in dun skywe gesny
1 soetrissie, in repies gesny
10 ml komynsaad
10 ml vinkel
4 kardemomsade
2 stukke pypkaneel
4 vet knoffelhuisies, gekneus
1 x 2.5 cm vars gemmer, fyngekap
5 ml borrie
2 suurlemoen- of lourierblare
2 groen brandrissies, fyngekap
6 -8 vars, ryp tamaties
45 ml tamatiepasta
50 ml botter
Vars koljander vir garnering

Vryf suurlemoensap oor hoenderdye. Sprinkel masala oor hoenderdye en geur na smaak met sout en vars gemaalde swartpeper. Bedek en laat eenkant staan vir 30 minute. Verhit helfte van olie in ‘n kastrol en braai hoenderdye aan albei kante tot liggies verbruin. Verwyder hoender en hou eenkant. Verhit oorblywende olie in dieselfde kastrol en soteer ui en soetrissies oorl lae hitte tot baie sag. Voeg komynsaad, vinkel, kardemomsade, pypkaneel, knoffel, gemmer, borrie, suurlemoen blare en brandrissies by. Roerbraai om geure te laat ontwikkel. Sny ‘n kruisie deur die skil van die tamaties grof. Voeg by uie en soetrissies in kastrol saam met tamatiepasta. Bring tot kookpunt en prut vir 10 minute. Plaas hoender terug in kastrol en bring tot kookpunt. Prut vir sowat 35 - 40 minute stadig totdat vleis sag is en amper van die bene wil afval. Roer botter by. Proe en geur. Indien nodig kan ‘n bietjie bruinsuiker bygevoeg word. Sprinkel koljanderblare oor net voordat gereg voorgesit word.


KOOL FRIKKADELLE

1 groot koolkop
1 pak spekvleis, gesnipper
3 uie, fyn gekap
250g sampioene
1 kg maalvleis
Sout en peper
Speserye vir vleis
2 ekstra groot eiers
250 ml witwyn

Voorverhit die oond tot 180ºC, en smeer 'n oondbak. Trek die buiteblare van die koolkop af en kook die hele koolkop ongeveer 10 minute lank in kokende soutwater totdat die blare net sag is. Verwyder van die hitte en laat staan in water tot effens afgekoel. Braai die spekvleis, sampioene en uie tot net gaar. Skep onder in die mengbak. Meng die maalvleis, sout en peper en speserye na smaak met die eiers en vorm frikkadelle. Rol elke frikkadel in een of twee koolblare toe en rangskik op die spekmengsel. Herhaal totdat alles opgebruik is. Giet die wyn oor, bedek met foelie en bak ongeveer 1 uur tot die frikkadelle gaar is. Verwyder die foelie 10 minute voor die baktyd verstreke is. Lewer 6 - 8 porsies.


LEWERKOEKIES

500g skaaplewer
4 middelslag aartappels
250 ml gesnyde groenboontjies
2 spinasieblare
1 middelslag tamatie
1 ui
1 sny brood
3 eiers
180 ml ongesif afgemeet meelblom
15 ml bakpoeier
10 ml sout
1 ml peper
Kookolie vir vlak braai.

Trek die vliese van die lewer af en sny die lewer in stukke. Maal die lewer beurtelings met die
aartappels, boontjies, spinasie, tamatie en ui. Maal die brood laaste (sodat jy terselfdertyd die meul skoonmaak). Voeg die eiers by die gemaalde mengsel en meng goed. Voeg die meelblom, bakpoeier, sout en peper by en meng. Vorm die mengsel tot plat, ronde koekies en plaas stadig in vlak warm kookolie. Braai dit eers aan die een kant oor matige hitte tot gaar en bruin, draai die koekies om en braai aan die ander kant. Dreineer die lewerkoekies goed op kombuispapier en sit dit warm of koud voor. Hierdie koekies vries goed.


MA SE LEKKER HOENDER

2 hoenders

Marinade:
175 ml sonneblomolie
125 ml blatjang
125 ml HP sous
125 ml tamatiesous
125 ml tamatiesous
125 ml worcestersous
50 ml Aromat
25 ml knoffelsout
20 ml braaivleisspeserye
20 ml borrie
5 ml peri-peri poeier
5 ml gemengde kruie
1 knoffelhuisie (geskil en gekneus)

Maak die hoenders skoon, sny in porsies en was dit af in koue water. Droog die porsies af met kombuispapier. Meng die bestanddele vir die marinade. Gebruik 'n bak met 'n deksel wat goed kan verseël. Pak die hoenderstukke daarin en bedek elke laag met marinade. Sit die deksel op, plaas in yskas en laat die porsies ongeveer 12 uur marineer. Draai dit twee keer in die tyd om. Plaas die porsies met die marinade in 'n enkele laag in 'n groot oondpan. Bak dit ongeveer 3 uur lank by 100ºC, maar hou dit teen die end dop en stel die hitte laer as die marinade te bruin word.


WILDVLEIS KASSEROL MET DROë VRUGTE

1,5kg wildsvleis met bene in stukke gesaag

Marinade:
500 ml rooi wyn
4 knoffelhuisies, gekneus
10 ml gedroogde gemengde kruie
100 ml olie
30 ml bruinsuiker
15 ml Worcestersous
50 ml botter
2 uie
1 wortel, gerasper
2 selderystingels, gekap
2 tot 3 lourierblare
6 heel naeltjies
6 wonderpeperkorrels
50 ml vars suurlemoensap
500 ml vleisaftreksel
250 ml rooiwyn
500g droëvrugte
50 ml maroela-jellie

Marineer vleis twee dae lank in marinade. Verwyder vleis uit marinade en behou die vloeistof.  Verhit botter en braai uie, wortel en seldery in swaarboompot. Braai vleis tot bruin en plaas in kasserol. Skep uie-en wortelmengsel bo- op. Gooi marinade oor. Voeg lourierblaar, naeltjies, wonderpeperkorrels en suurlemoensap by. Geur goed na smaak met aromat, sout en vars gemaalde peper. Plaas in oond en prut 3 uur lank by 160ºC. Vul vloeistof aan met rooi wyn en vleisaftreksel soos benodig. Vir ekstra geur kan 250 ml room bygeroer word net voordat dit voorgesit word.