TUISGEMAAKTE GOUESTROOP
6 x 250 ml suiker
750 ml koue water
15 ml kremetart
Meng suiker, kremetart en die helfte van die water in 'n kastrol. Roer
oor lae hitte totdat suiker opgelos is. Kook oor matige hitte tot stroop
ligbruin van kleur is, sowat 15 - 20 minute. Voeg die res van die water stadig
by. Verwyder van hitte en gooi in, gesteriliseerde flesse. Verseël dadelik.
TUISGEMAAKTE KAASSMEER
4 koppies melk
500 g margarien (goeie romerige soort)
1 kg cheddar kaas
Sout en swart peper na smaak
Kook alles saam en meng deeglik. Bottel warm en bêre in yskas wanneer
afgekoel.
Opsioneel: Meng fyn biltong
daarby.
TUISGEMAAKTE KONDENSMELK
1.25 liter melk
2 ml koeksoda
500g suiker
3 ml sout
Voeg alle bestanddele bymekaar en roer oor lae hitte totdat die suiker
opgelos is. Kook stadig totdat die melk soos dik room begin lyk. Moenie roer
nie, tensy melk wil oorkook. Gooi in flesse wat gesteriliseer is en plaas vir
15 minute in voorverhitte oond van 120ºC. Skroef daarna dadelik toe.
TUISGEMAAKTE MAYONNAISE
2 eiergele
2 ml mosterdpoeier
5 ml suiker
2 ml sout
Knippie witpeper
10 ml suurlemoensap of asyn
250 ml olyf of kookolie of ‘n mengsel daarvan
Klits die eiergele, mosterd, suiker, sout, witpeper en suurlemoensap
of asyn saam in ‘n mengbak. Hou aan met klits en voeg die olie druppel vir
druppel by. Sodra die mengsel begin verdik, kan meer olie op ‘n slag bygevoeg word.
(Gewoonlik na 60 - 75ml). Hou aan met klits totdat al die olie bygewerk is.
TUISGEMAAKTE MOSTERD
397g kondensmelk
250 ml suiker
110g mosterdpoeier
200 ml mayonnaise
200 ml asyn
Meng die kondensmelk, suiker en mosterdpoeier. Voeg die mayonnaise en
asyn by en meng. Klits dit goed met ‘n eierklitser. Bewaar dit in die yskas.
Lewer ongeveer 1 liter.
TUISGEMAAKTE TOEBROODJIESMEER
6 geelwortels
2 groen soetrissies
1 rooi soetrissie
3 uie
1 Engelse komkommer
750 ml wit asyn
750 ml mayonnaise
12.5 ml suiker
Sout en peper na smaak
Skraap of skil die geelwortels. Verwyder die soetrissies se pitte en
skil die uie af. Kap al die groente baie fyn en plaas dit in 'n vlekvrye
staalbak. Giet die asyn oor die groente en laat dit oornag staan. Dreineer die
groente goed en druk dit droog. Voeg die mayonnaise, suiker en sout en peper na
smaak by die groentemengsel en meng dit goed. Skep in droë, gesteriliseerde
flesse en verseël dadelik. Bêre die toebroodjiesmeer in die yskas.