Blatjang

APPEL BLATJANG

1 kg groen appels
1 groot ui, gerasper
375ml bruinsuiker
375ml asyn
125ml lemoensap
3 brandrissies, fyn gekap
5ml gemaalde gemmer
sout na smaak
3 knoffelhuisies, gekneus

Skil en ontkern appels. Rasper die appels. Meng al die bestanddele goed saam. Laat prut dit ongeveer 40 minute lank totdat die blatjang dik en souserig is. Skep die blatjang in warm gesteriliseerde flesse en maak seker dat daar geen lugblasies vorm nie. Verseël dit. Bewaar die blatjang op ‘n koel droë plek.


BEET BLATJANG

750 ml suiker
500 ml bruin asyn
6 kopppes gaar beet, geskil en in blokkies gesny
2 groot uie, fyn gekap
15 ml kerriepoeier
5 ml sout
45 ml mielieblom, aangemaak met bietjie water

Meng suiker en asyn in 'n kastrol. Verhit oor lae hitte. Roer tot die suiker opgelos is en begin kook. Verhit tot kookpunt, voeg beet en uie by en kook nog 5 minute. Meng kerrie, sout en mielieblom met 'n bietjie water om 'n lopende pasta te vorm. Voeg by die beet en kook 5 minute deur. Skep warm in gesteriliseerde bottels en verseël.


GROEN TAMATIE BLATJANG VAN OUMA HANNA

3 kg groen tamaties
125 ml sout
1½ kg fyn gekapte uie
750 ml suiker
1,875 liter asyn

Verwyder ogies van tamaties, sny in blokkies, sprinkel sout oor en laat staan oornag. Dreineer oortollige vloeistof. Roer gekapte uie, suiker en asyn by. Kook vir 1 uur sonder deksel.

90 ml koekmeel
30 ml kerrie
30 ml mosterd
15 ml rooipeper
15 ml borrie
125 ml appelkooskonfyt
375 ml asyn

Meng al die bestanddele baie goed sodat al die klontjies opgelos is. Voeg 250ml van die warm
tamatiemengsel by die kerriemengsel en roer. Gooi die kerriemengsel by die kokende tamatie mengsel.
Kook 15 minute terwyl u voortdurend roer. Gooi warm mengsel in gesteriliseerde bottels en verseël.


KWEPER BLATJANG

500g kwepers in baie fyn stukkies gekap
2 groot uie, gekap
250g pitlose rosyne
2 knoffelhuisies, fyngedruk
15 ml fyn koljander
15 ml growwe sout
500 ml bruin asyn
1 skerp rooi rissie, fyn gekap
15 ml fyn gemmer
375 ml bruin suiker

Meng al die bestanddele in 'n groot kastrol. Kook stadig tot mooi dik en donker van kleur - sowat 2 uur lank. Bottel in gesteriliseerde flesse. Bêre op 'n koel donker plek om ryp te word vir minstens 'n maand.


PAMPOEN BLATJANG

1kg pampoen geskil, ontpit ,in blokkies gesny
2 groot uie gekap
250g sultanas
1,25 liter asyn
125 ml suiker
60g mosterdpoeier
20 ml sout
15ml borrie
5ml fyn naeltjies
1ml gemengde speserye

Plaas pampoen, uie, sultanas en asyn in 'n kastrol en kook tot sag. Plaas pampoen, uie, tesame met res van die bestanddele in 'n voedselverwerker of versapper en maak fyn. Indien te styf, voeg bietjie van die asyn waarin die pampoen gekook is, by. Skep in gesteriliseerde bottel en verseël.


PERSKE BLATJANG

500g geelperskes
2 uie, gekap
10 ml sout
3 ml koljanderkorrels
2 ml piment-of –wonderpeperkorrels
2 ml peperkorrels
5 ml matige kerriepoeier
1 ml sout
250 ml wit asyn
12.5 ml mielieblom
25 ml koue water
100 ml kookwater
100 ml suiker

Spoel perskes af om hare te verwyder. Halveer en snipper in dun skyfies. Bedek perskesnippers en gekapte uie met water waarby 10 ml sout gevoeg is. Laat staan vir 'n uur. Kook vir 20 - 30 minute in ‘n kastrol, nadat 100ml kookwater bygevoeg is. Kook intussen speserye, sout en asyn vir 3 minute in ‘n ander kleiner kastrol. Voeg asynmengsel by gaar perskemengsel. Meng mielieblom en koue water tot glad. Roer kookwater en suiker by mielieblommengsel. Kook vir ongeveer 5 minute of totdat sous verdik. Skep blatjang in warm, skoon, glasbottels en verseël. Bêre op ‘n koel donker plek.


PIESANG BLATJANG

12 geskilde piesangs, in ringe gesny
250 ml sultanas
2 groot gekapte uie
250 ml suiker
15 ml kerriepoeier
500 ml wit asyn
15 ml sout
Knippie rooipeper
2 stukke pypkaneel

Meng die bestanddele in 'n geskikte kastrol en prut stadig tot dik. Kook sonder 'n deksel en roer gereeld omdat dit baie maklik aanbrand. Die blatjang behoort binne sowat 35 minute dik en geurig te wees. Proe en verwyder die kaneel. Skep in gesteriliseerde flesse. Bewaar om ryp te word.


PRUIMEDANT BLATJANG

750 ml asyn
5 ml gemaalde gemmer
5 ml gemengde speserye
5 ml fyn kaneel
5 ml droë mosterd
2.5 ml brandrissie poeier
Knypie gemaalde naeltjies
Knypie gemaalde neutmuskaat
1.5kg ryp pruime, gewas, gehalveer en ontpit
500g pitlose rosyne
600g appels geksil, ontpit en in stukke gesny
500g suiker
500g wortels, geskil en grof gerasper
30 ml sout
2 groot mango’s, geskil, ontpit, gesny in stukke
600g uie, geskil en gekap

Giet die asyn en speserye in ‘n groot kastrol en bring tot kookpunt. Voeg al die oorblywende
bestanddele by en roer goed. Bring weer tot kookpunt. Draai die hitte af nadat kookpunt bereik is en kook oor ‘n lae temperatuur vir 2½ uur. Roer gereeld sodat die mengsel nie aanbrand nie. Kook blatjang tot dik. Wanneer jy ‘n lepel deur die mengsel trek en die twee kante stadig na mekaar toe loop, is die blatjang reg. Wanneer die blatjang reg is, haal dit van die stoof af en gooi ‘n vadoek oor die pot. Laat oornag afkoel. Skep die volgende dag in gesteriliseerde botteltjies. Die deksels moet met plastiek uitgevoer wees, sodat die asyn nie met die deksel in aanraking kom nie. Bêre op ‘n droë plek. Vir beste resultate gebruik eers na ‘n maand.


WARM MANGO BLATJANG

1,5 kg groen mango's, geskil, gehalveer, ontpit
70 ml sout
2 liter water
500g suiker (625 ml)
600 ml asyn
125 g dadels, ontpit en gekap
'n Stuk vars gemmer, geskil en fyngekap
6 knoffelhuisies, gekneus
10 ml rissiepoeier
1 kaneelstokkie
125 g pitlose rosyne

Kap die mango's in klein stukkies. Plaas in 'n mengbak. Sprinkel sout oor en voeg water by. Bedek en laat 24 uur staan. Dreineer die mangostukkies en plaas eenkant. Plaas suiker en asyn in 'n kastrol en verhit tot kookpunt. Verminder die hitte en laat prut totdat die suiker opgelos is. Roer voortdurend. Voeg die gemmer, knoffel, rissiepoeier, kaneelstokkie, rosyne, dadels en gedreineerde mango by. Verhit tot kookpunt, verlaag die hitte en laat 1 tot 2 uur onbedek prut of totdat die blatjang dik is. Roer af en toe. Verwyder die pypkaneel. Skep die blatjang in warm, gesteriliseerde bottels en verseël.