Beskuit

ANYS BESKUIT

375g botter of margarien
470 ml suiker
4 groot eiers
4x500g bruismeel
15 ml anys
10 ml sout
2.5 ml kremetart
1 liter kookmelk

Smelt margarien of botter en suiker, laat afkoel en klop eiers by. Sif droë bestanddele saam en voeg saam met die kookmelk by eiermengsel. Voeg anys by en maak aan tot ‘n deeg. Laat 5 minute staan. Rol in balletjies en pak teen mekaar in 2 gesmeerde broodpanne van 220x120mm. Bak vir sowat 1 uur in voorverhitte oond by 180ºC tot gaar. Laat afkoel en droog beskuit uit.


BOERE BESKUIT

750 ml melk
750 ml suiker
500 g botter of margarien
25 ml sout
3,75 kg koekmeelblom
3 pakkies kitsgis
1 liter water
3 eiers, geklits

Meng meelblom, kitsgis en sout saam. Kook melk, suiker, botter en water saam (oppas vir oor kook). Laat afkoel tot lou. Voeg eiers by. Voeg melkmengsel by meel en meng. Knie goed deur. (Indien 'n bietjie styf, voeg nog melk by). Maak warm toe en laat rys vir ongeveer 1½ - 2 uur of tot dubbel die grootte. Vorm balletjies, sonder om af te knie, en sit in gesmeerde panne. Laat rys op 'n warm plek tot dit in grootte verdubbel het. Bak vir 1 uur in 'n warm oond (180ºC). Net voor dit uitgehaal word, word glasuursel opgesmeer. (Klits 10ml suiker met 12.5ml melk en smeer bo-oor). Sit terug in die oond tot dit blink en goudbruin is. Keer uit op afkoelrakke. Sodra dit koud is, breek in stukke en droog uit in lou oond, 100ºC vir ongeveer 5 tot 6 uur.


GESONDHEIDS BESKUIT

1 kg volkoringmeel
500 ml koekmeel
250 ml klapper
500 ml fyngedrukte graanvlokkies
200 ml pitlose rosyne
125 ml sonneblomsaad
55 ml bakpoeier
10 ml sout
500 ml suiker
250 g margarien, gesmelt
250 ml sonneblomolie
1 liter kookwater

Stel die oond op 180ºC. Meng al die droë bestanddele, behalwe suiker saam. Giet die gesmelte margarien in ´n ander mengbak en voeg die suiker, olie en kookwater by. Meng. Voeg by die droë bestanddele en meng goed. Skep deeg in 2 gesmeerde broodpanne. Doop ´n mes in warm water en sny die deeg in blokkies. Bak sowat 1 uur of tot gaar in die voorverhitte oond. Laat effens afkoel in die panne. Keer uit, breek in stukke en droog uit.


KARRINGMELK BESKUIT

9 x 250 ml volkoringmeel
4 x 250 ml koekmeelblom
45 ml vlapoeier
25 ml koeksoda
15 ml kremetart
20 ml sout
500 ml suiker
6 x 250ml (1.5 liter) karringmelk
500 ml olie
60 ml druiwe asyn

Voorverhit die oond tot 180ºC. Spuit twee groot broodpanne van 34 x 11 x 7cm met kleefwerende kossproei of smeer goed met botter of margarien. Sprinkel ‘n bietjie volkoringmeel op die boom en teen die kante van die pan. Sif die volkoringmeel, koekmeelblom, vlapoeier, koeksoda, kremetart en sout saam in ‘n groot mengbak. Voeg die semels wat in die sif agtergebly het, weer by. Voeg die suiker by meelmengsel en meng goed. Meng die karringmelk, olie en druiweasyn en voeg by. Meng goed deur met houtlepel. Skep in voorbereide panne en maak gelyk bo-op. Bak 1 uur lank of tot gaar en ligbruin van bo en totdat ‘n toetspen skoon uit die middel van die beskuit kom. Laat effens afkoel en keer uit of draadrakke om heeltemal af te koel. Sny in stukke en droog uit by 100ºC. Lewer ongeveer 110 stukke.


KONDENSMELK BESKUIT

1 kg bruismeel        
125 ml suiker
500 ml semels
250 ml volkoringmeelblom
150 ml sesamsaad
150 ml sonneblomsaad
15 ml bakpoeier
5 ml sout
2 eiers, geklits
500 ml karringmelk
397g kondensmelk
450 ml botter gesmelt

Plaas droë bestanddele in ‘n mengbak en meng goed. Voorverhit oond tot 180ºC. Maak ‘n holte in die middel en voeg die eiers, karringmelk, kondensmelk en botter by en meng goed. Smeer 3 middelslag broodpanne met botter. Verdeel mengsel tussen panne en maak gelyk bo-op. Bak sowat 45 minute lank by 180ºC of tot goudbruin en deurgaar. Laat vir 5 minute in panne afkoel, keer versigtig uit en laat heeltemal afkoel. Sny beskuit in vingers en pak effens uitmekaar op bakplate. Laat oornag in ‘n koel oond (60 – 70ºC) uitdroog. Plaas ‘n lepel in die oonddeur sodat die vog kan ontsnap.


MALTABELLA BESKUIT

500 ml Maltabella meel
750 ml koekmeelblom
500 ml semels
500 ml suiker
2 ml sout
10 ml bakpoeier
10 ml kremetart
10 ml koeksoda
250g margarien
750 ml karringmelk

Voorverhit die oond tot 180ºC. Smeer twee panne met margarien. Meng al die droë bestanddele, insluitende die rysmiddels, in ‘n groot mengbak goed saam. Smelt die margarien. Laat effens afkoel en voeg die karringmelk by. Voeg by die droë bestanddele en meng deeglik deur. Skep in die voorbereide panne en bak sowat 60 minute lank of totdat die toetspen skoon uit die beskuit kom. Keer uit, en laat heeltemal afkoel. Sny in vingers en plaas op bakplate. Droog uit by 100ºC.


NEUT EN SAAD BESKUIT

550g bruismeel
15 ml bakpoeier
250g Nutty Wheat
500 ml geroosterde muesli
50g gekapte pekanneute
50g gekapte okkerneute
100 ml sonneblomsade
50 ml sesamsade
500g koue botter, in klein blokkies gesny
100 ml pampoensade
500 ml karringmelk
380g suiker
10 ml asyn
2 groot eiers

Sif die bruismeel en bakpoeier saam. Voeg die Nutty wheat, neute en sade by. Voeg die botter by en vryf dit met jou vingerpunte in tot dit goed gemeng is. Klop die karringmelk, asyn en eiers saam. Voeg dit by die meelmengsel en roer tot al die bestanddele goed gemeng is. Verdeel die mengsel tussen twee broodpanne van 29 x 12cm. Bak 50-60 minute lank in vooraf verhitte oond van 180C, of totdat mespunt skoon uitkom. Haal die beskuit uit die panne en sny dit in stukke. Verlaag dan die temperatuur tot 100ºC en bak dan die beskuit tot dit heeltemal uitgedroog is.


SKURWE ABRAHAMS

650 g koekmeelblom
15 ml kremetart
12,5 ml sout
400 g suiker
250 g botter, by kamertemperatuur
250 ml karringmelk
10 ml koeksoda
1 eier

Voorverhit oond tot 200ºC. Smeer 'n rolkoekpan van 45 x 30 x 2cm of bespuit dit met kleefwerende middel. Sif die koekmeeblom, kremetart en sout saam. Voeg die suiker by en meng. Vryf die botter met vingerpunte in die meelmengsel totdat dit fyn gekrummel is. Meng 25 ml van die karringmelk met die koeksoda. Voeg dit by die meelmengsel. Klits die res van die karringmelk en die eier saam. Hou 25 ml van die mengsel om oor die beskuit te verf en voeg die res by die meelmengsel. Meng goed tot 'n deeg. Verdeel die deeg in 8 ewe groot stukke. Fatsoeneer elke stuk op 'n meelbestrooide deegplank om 'n wors van 28 cm en druk dit effens plat. Sny elke wors in 4 ewe lang stukke. Plaas die stukke effens uitmekaar in die pan. Verf die oorblywende 25 ml karringmelk-en-eiermengsel oor die beskuite. Bak hulle sowat 30 minute of tot gaar op die middelste oondrak. Laat die beskuite effens afkoel, breek hulle oop en droog in 'n koel oond uit.