Allerlei

AARTAPPELSUURDEEG

2 medium aartappels geskil en gerasper
25 ml suiker
500 ml kookwater
10 ml sout
3 ml aktiewe gis
125 ml lou water
Fles met deksel

Gooi kookwater oor aartappels en laat afkoel. Week gis in 125 ml lou water. Meng suiker, sout, en geweekte gis goed met die lou aartappelmengsel. Gooi in fles en skroef toe - nie styf nie. Maak warm toe en laat 6 tot 8 uur lank op warm plek staan. Die suurdeeg sal skuimerig word en die fles vul, of selfs uitloop as gis baie aktief is. As gis te lank gehou word sal gis verswak. Hou 250 ml gis in fles vir plantjie.

Syg die res deur draadsif. Knie volgens insuur of direkte deeg metode.

Opmerking: Die plantjie sal 8 tot 10 dae lank op ´n koel plek goed hou. As dit weer aangemaak word, word daar nie weer gis bygevoeg nie, net die res van die bestandele. As plantjie mettertyd verswak moet ´n klein hoeveelheid gis bygevoeg word, of anders kan ´n nuwe plantjie gemaak word.


BILTONG

25 kg vleis van goeie gehalte, bv. dy, diklies of binneboud
200 - 400ml heel koljander
500g - 1kg sout
12.5 ml salpeter
25 ml koeksoda
12.5 ml peper
Asyn
Warm water
225 ml suiker

Sny die vleis met die draad langs in lang stroke - so dik of dun soos jy dit verkies. Onthou: hoe minder vet aan die vleis is, hoe langer kan dit gebêre word omdat vet mettertyd galsterig word. Verhit 'n pannetjie oor matige hitte en rooster die koljander daarin, totdat dit 'n welriekende geur begin afgee.

Maal en sif die geskroeide koljander. Meng die koljander, sout, suiker, salpeter, peper en koeksoda en vryf die mengsel met die hand oor elke stuk vleis. Pak die vleis in lae in 'n houtbalie, erdehouer of plastiekhouer en strooi die orige soutmengsel tussen elke laag. Pak die dik gesnyde stukke onder en die dunner stukke bo-op. Sprinkel 'n bietjie asyn bo-oor die vleis en laat dit oornag staan. Biltong met baie vet aan moet langer lê, want dit neem langer om sout te absorbeer. Meng 200 ml asyn met elke 2.5 liter water en spoel elke stuk vleis vinnig daarin af voordat dit op 'n koel, droë plek gehang word.

Hang die biltonge die eerste dag in die son op en daarna in die koelte - weg van mekaar af. Biltong kan ook binneshuis hang, maar dan moet daar 'n goeie trek wees. 'n Elektriese waaier kan help om die lugvloei te verbeter. Laat die biltonge hang totdat dit so droog is soos verkies.


BOERE CROISSANTE

900 ml koekmeelblom
25 ml bakpoeier
2 ml sout
1 ml rooipeper
125g botter of margarien
500 ml Cheddarkaas, gerasper
300 – 325 ml melk
1 eiergeel

Voorverhit die oond tot 200ºC. Spuit 'n bakplaat met kleefwerende kossproei of smeer goed met botter of margarien. Sif die droë bestanddele saam en vryf die botter met jou vingerpunte in totdat die mengsel soos broodkrummels lyk. Voeg die kaas en ongeveer 275 - 300ml melk by om 'n stywe deeg te vorm wat uitgerol kan word. Verdeel die deeg in vier ewe groot stukke. Rol elke deegstuk dun uit op 'n meelbestrooide deegplank sodat dit sirkels van 20 cm in deursnee vorm. Sny die buiterande mooi rond en verdeel elk van die sirkels soos die speke van 'n wiel in agt ewe groot stukke. Rol elke stuk van die buiterand na die punt toe op. Buig die 32 rolletjies effens om hulle halfmaanvormig te kry en plaas 'n entjie uitmekaar op die gesmeerde bakplaat. Klits die eiergeel met die orige melk en bestryk die rolletjies
daarmee. Plaas die rolletjies hoog in die oond en bak ongeveer 15 minute lank tot gaar of goudbruin.

Lewer 32 croissante.


MELKKOS

Snysels:
3 eiers
2.5 ml sout
250 ml koekmeelblom
Water
Kokende melk
2 stukke heel kaneel (opsioneel)
Kaneelsuiker

Klits eiers en sout effens. Voeg koekmeelblom by en meng goed. Voeg genoeg water by om 'n stywe deeg te vorm. Knie deeg lank en goed tot dit elasties is. Rol sowat 6 mm uit op 'n meel bestrooide oppervlak uit. Sny met 'n skerp mes in dun repies. Kook die snysels sowat 15 - 30 minute lank in kokende melk (gebruik 250 ml melk per persoon) tot dit gaar is. Voeg 2 stukke heel kaneel by indien verkies. Skep in diep borde en strooi kaneelsuiker oor.


MOSBOLLETJIES

1kg meelblom
10g kitsgis
1 blikkie kondensmelk
30 ml suiker
5 ml sout
90g margarien
500 ml louwarm water

Sif meelblom en sout. Voeg gis en suiker by. Smelt margarien en voeg kondensmelk by. Voeg by meelblommengsel. Voeg water geleidelik by om sagte deeg te vorm. Knie goed vir 15 minute. Bedek en laat rys. Wanneer deeg tot dubbel die grootte het, knie af en vorm in bolletjies. Plaas in gesmeerde broodpan en laat in warm plek rys. Wanneer grootte verdubbel het, verglans met geklitste eier en bak teen 200ºC vir 45 minute.


PAASBOLLETJIES

450g witbroodmeel
80g koue botter
10g sakkie kitsgis
5 ml sout
10 ml gemaalde kaneel
10 ml gemengde speserye
50g strooisuiker
100g droëvrugte koekmengsel
50g droë appelkose, gekap
1 groot eier, geklits
300 ml warm melk
50g koekmeelblom
Heuning of stroop as glaseersel

Sif die broodmeel in 'n groot bak. Vryf die botter met jou vingerpunte in tot die mengsel soos growwe broodkrummels lyk. Roer die gis, sout, speserye, suiker en vrugte in. Meng die eier en melk saam en voeg dit geleidelik by tot dit 'n stywe deeg vorm. Keer die deeg op 'n meelbestrooide oppervlak en knie dit deeglik vir 10 minute. Verdeel die deeg in 12 stukke en rol elkeen in 'n bolletjie. Plaas dit op 'n gesmeerde bakplaat. Bedek ligweg met 'n lap en laat op 'n warm plek staan tot die bolletjies dubbel hul grootte gerys het. Meng die meelblom en water en maak 'n kruis bo-op elke bolletjie. (Gebruik 'n versiersak hiervoor). Bak vir 25 - 30 minute in 'n voorverhitte oond tot deurgaar en goudbruin. Haal die bolletjies uit die oond en "verf" warm heuning of stroop oor.


SKONS

750 ml koekmeel
15 ml bakpoeier
1 eier
250 ml melk
Knippie sout
37.5 ml botter

Vryf botter in die meel in. Meng die eier, melk en klein bietjie olie. Sny die melkmengsel in. Meng verder met die hand tot styf. Rol uit met die hand. Gebruik 5 cm koekdrukkers vir vorm en verf bietjie eiergeel bo-op voor dit in die oond bak vir 10 minute op 200ºC.


SONGEDROOGDE TAMATIES

Halveer tamaties wat lekker ryp is. Sit oopkant na bo in oond. Strooi sout en suiker oor. Droog soos met beskuit. Dit moet nog elasties wees. Bedek met olyfolie in bottels. Sit lourierblaar, ´n paar peperkorrels en takkie roosmaryn in bottels.


VETKOEK

500g witbroodmeel
5 ml sout
5 ml suiker
10g kits droëgis
40 ml botter
± 625 ml louwarm water
Olie vir diepbraai

Meng meel, sout, suiker en gis saam. Vryf botter met vingerpunte tot mengsel soos brood krummels lyk. Voeg louwarm water geleidelik by om 'n sagte deeg te vorm - indien nodig kan nog 'n bietjie water bygevoeg word. Knie tot glad en elasties. Bedek en laat staan vir 10 minute. Vorm vetkoeke, plaas op 'n gesmeerde plaat, bedek en laat rys tot dubbel die volume. Diepbraai in olie tot goudbruin en gaar.
Lewer 18 vetkoeke.


WORSROLLETJIES

Vulsel:
1 kg maalvleis
2 snye witbrood(gekrummel)
15 ml sout
25 ml asyn
25 ml spekvleis, swoerdloos, gesnipper
10 ml koljander
Knypie neutmuskaat
Knypie kaneel
Smaakmiddels na smaak

Braai alle vulsel bestanddele saam totdat die vleis bruin verkleur. Laat afkoel.

Deeg:
4 x 250 ml koekmeelblom
5 ml sout
500g botter
12.5 ml suurlemoensap
1 eiergeel
250 ml water

Sif meelblom en sout saam. Vryf botter in tot dit lyk soos broodkrummels. Voeg eiergeel, suurlemoensap en genoeg water by om ‘n hanteerbare deeg te vorm. Rol deeg uit op ‘n meel bestrooide oppervlak. Plaas bietjie vleis bo-op deeg. Smeer kante met eierwit. Rol op. Verf mengsel van geklitste eiergeel en melk bo-oor. Bak vir 45 minute lank in ‘n voorverhitte oond teen 180ºC tot goudbruin. Sny in worsrolletjies.
Lewer ongeveer 5 dosyn worsrolletjies.

Please support our sponsors